fbpx
A forest stream a few minutes walk from Forest Edge, photo by Dominique de la Croix

Die Burger - 1996 article featuring Forest Edge

Die Burger: articles on Forest Edge – Braham Van Zyl

Knysna boswêreld vol eie bekoring
– 30 Julie 1996 – Braham van Zyl

Knysna se boswêreld het ‘n bekoring van sy eie. Dit is glad nie vergesog om te sê daar is iets romanties omtrent hierdie omgewing nie. Dalene Matthee het met haar drie bosromans heelwat gedoen om die romantiek rondom die leefwyse van die boswerkers van destyds uit die vergetelheid op te roep. Bibieshoek aan die bos se rand was een van hulle blyplekke. Deesdae staan dié gedeelte as Gouna bekend, maar daar is nog heelwat ou huisies te sien en ‘n paar van die mense bly ook nog daar rond. Corlia de Bruyn het pas drie selfsorg-gastehuisies met die naam van Forest Edge by Bibieshoek laat bou. Nader aan Gouna se bos kan ‘n mens nie! Die huisies vertoon knus en intiem, maar het tog genoeg ruimte binne en alles is baie luuks. Jubilee Creek en Millwood se goudvelde is net om die draai en die splinternuwe Houtkappers Wandelpad is binne stapafstand. Daar is ook talle roetes vir ywerige fietryers in Gouna se bosse. Verskeie ander korter stappaadjies begin by die huisies. Ek sou hierdie blyplek veral aanbeveel vir paartjies wat ‘n bietjie wil wegkom.

Wonders wag in Biebieshoek se bos. Knysna se Houtkapper wandelpad is nog aan weinig bekend en bied vele verrassings diep in die bos.
– 10 Desember 1996 – Braham van Zyl

AS daar van Knysna se woud gepraat word, dink ons onwillekeurig eerste aan olifante en houtkappers. Miskien weens Dalene Matthee se `bosboeke’. Hierdie geweste se bosbouers het so ‘n tydjie gelede die Houtkapper wandelroete in Biebieshoek se bos oopgestel. Min bosroetes kan by hierdie roete kers vashou. Dit lê naby die Knysna goudvelde en op die rand van die digte inheemse woud. Die stappad is nie moeilik nie en daar is genoeg te sien om ‘n mens ‘n hele dag lank besig te hou.

Volgens die kaart is die stappad 9km lank en behoort dié sirkelroete jou drie uur te neem om te voltooi. Dit het my egter veel langer geneem, want langs die pad was soveel dinge wat my aandag afgetrek het. Boonop was dit toe bitter droog in die bos. Nou, ná die reën, behoort dit ‘n sprokieswêreld te wees met al die swamme en bome wat weer lewe toon. Om by die Houtkapper pad uit te kom, neem jy die Rheenendal afdraai sowat 10km ver op die N2 langs in George se rigting van Knysna en ry tot by Rheenendal se saagmeule. Draai daar na die Goudvelde, betaal jou toegangsgeld by die bos se ingangshek en ry dan die hoogte uit tot by die eerste groot piekniekplek op linkerkant. Dis waar die roete begin en eindig. Die eerste ent volg die roete ‘n redelike gelyk Jeep pad al op Chrisjan-se-Nek langs. Dan draai dit steil af in ‘n sleeppad wat na Forest Creek gaan.

Dit is hier waar jy op die lieflikste swemgate sal afkom. Dié is net so effens voor die halfpadmerk. Span dus maar uit en rus jou goed uit vir die steiltes wat daarna kom. As jy hierdie steiltes stadig vat, sal dit jou nie pla nie, want die bos is so mooi dat dit jou aandag skoon aftrek van die klim. Voor jy jou kom kry, is jy terug by die beginpunt en is dié heerlike stap verby. As jy vroeg begin stap, kan jy daarna nog by die Goudvelde en Jubilee Creek ook aangaan.

Vir my is die mooiste van die woud nie soseer meer die bome nie, maar wel die swamme. Ek het Van der Westhuizen en Eicker se boek Mushrooms of Southern Africa aangeskaf en met dié in die hand het ek deesdae ure se plesier in die bos. Dan is daar ook nog die vele voëls. Die kroon op ‘n besoek aan die bos bly maar nog om ‘n Knysna loerie te sien. Ek was al so gelukkig om sommer ‘n hele swerm saam te sien, maar dan moet jy baie stil beweeg.

Al hierdie dinge is maar net ‘n klein deeltjie van al die mooi wat die bos daar by Chrisjan-se-Nek jou bied.

Vind ‘n ander soort goud in die bosse van Jubilee Creek
– 19 Maart 1996 – Braham van Zyl

JUBILEE CREEK is maar een van die vele interessante stapplekke in Knysna se bosse. As gesinstapplek vir diegene met kleiner kinders is dit beslis ‘n wenner. Ook die ouer en rustiger voetslaner sal dit ‘n heel aanvaarbare roete vind. Boonop leef die hele omgewing van die geskiedenis van die goudsoekers wat in die vorige eeu daar aan die soek was na ‘n pot goud aan die voet van die reënboog. Ek het middel Februarie een laat agtermiddag daar gaan kuier. Om daar te kom, draai jy 10 km wes van Knysna by die Rheenendal/Portland Manor bordjie van die N2 af, berg se kant toe. Sowat 12 km daarvandaan kom jy by Rheenendal. Daar is ‘n saagmeule, ‘n klompie huisies en ‘n egte plaaswinkel. Dit is waar jy wegdraai, berg-op. By die ingang tot die reservaat is ‘n rietdakskerm met heelwat inligting oor die bos en hoe dit bestuur word. In die somervakansie moet jy daar betaal om die bos te kan in. Ander tye ry jy maar net verder. Teken tog net eers die besoekersboek. Kort na die inligtingsentrum ry jy die ware Knysna bosse binne. ‘n Entjie verder kom jy by die piekniekplek Krisjan-se-nek op Stinkhoutdraai. Ruim gerus tyd in om daar stil te hou, want dit is waar jy na een van daardie wêreld se ou groot geelhoutbome kan gaan kyk. Dit is ook die begin- en eindpunt van ‘n splinternuwe staproete, genaamd die Houtkapper Wandelpad. Hierdie paadjie is 9 km lank en volg vir ‘n gedeelte, volgens die kaart wat ek in die hande gekry het, ook Jubilee Creek se roete. Daardie middag was my mikpunt egter net die Jubilee Creek gedeelte en ek is toe daarnatoe.

Daar aangekom was dit nogal moeilik om met die stap te kan begin. Die omgewing self het my so vasgevang dat ek nie wou weg nie. Waar jy stilhou is ‘n reuse piekniekterrein reg in die middel van daardie enorme boswêreld. As jy eers jou piekniekgoed daar uitgepak het, wil jy nie sommer weer weg nie. Daar was ook nog ‘n paar Jonkershoekse visnavorsers aan die soek na vissies in Jubilee Creek. Nuuskierig soos ek is, het ons dus daar toe ook nog ‘n rukkie vertoef om te kyk wat hulle doen. Dit was dus effe laat toe ons uiteindelik met die stap begin. Niks het ons egter gejaag nie. Boonop is die stappaadjie seker nie eers 2 km lank nie. Ons kon derhalwe rustig aangestap.

Wees egter net gewaarsku dat daardie boswêreld meer as honderd jaar nadat die goudsoekers daar weg is, nog steeds verniel lyk. Volgens een van die pamflette wat ek raakgeloop het, het daardie goudsoekery reeds in 1876 begin. In die middel tagtigers van die vorige eeu was daar honderde goudsoekers aan die rondgrawe in die digte bosse. Daar was trouens soveel dat die dorp Millwood kortby Jubilee Creek ontstaan het. Die jaar 1887 was blykbaar die hoogtepunt. Aan die begin van die negentigs was alles verby. In 1917 was daar ‘n oplewing en ook in 1934, maar alles het doodgeloop toe daar besef is dat wat daar ookal was, nie ekonomies ontginbaar was nie. Millwood het ‘n spookdorp geword, en vandag is die bietjie wat daarvan oorgebly het ‘n toeriste-attraksie. Daar is orals langs Jubilee Creek tekens van gate, skagte en slote wat hulle gegrawe het. Dit maak die stap baie interessant, want ek kon amper in my verbeelding die ou lot delwers teen die stroompie met hulle panne sien werk. Soos gesê, is die stappie met die Jubilee Creek nie juis vermoeiend nie. Daarom het jy baie tyd om rond te kyk na die bome, die voëls en selfs die spinnekoppe wat langs die paadjie nes maak. Gaan sit gerus bo by die eindpunt by die watervalletjie en dink bietjie aan die wel en wee van almal wat op ‘n tyd daar geswoeg het, en weet dan dat daardie wêreld veel meer as net bosse het wat jy kan gaan ervaar.

Daar’s ‘n hele bos van feetjies en kabouters wat met jou wil praat. Knysna se bosse is ‘n wonderwêreld.
– 9 April 1996 – Braham van Zyl

KNYSNA se bosse is al deur baie as ‘n wonderwêreld beskryf. Self, het ek tot onlangs nog nooit moeite gedoen om te gaan kyk hoe dit daar lyk nie. Iewers in my kop was daar ‘n idee dat die baie maal se verbyflits met die N2 my genoeg van die bos gewys het. Boonop het ek mos daar in Swellendam se wêreld, so te sê, in dig beboste bergklowe grootgeword. Tog was daar iets wat nou al jare lank vir my bly sê dat ek moes gaan kyk wat daar diep binne-in daardie Knysna bosse aangaan. Wat ek ervaar het, noudat ek uiteindelik daar uitgekom het, het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak. Dit is deesdae ‘n geval van ‘n hart wat my bly teister met herinneringe aan ‘n deel van my wat voel asof dit in daardie bos agtergebly het. As daar ooit so iets soos feetjies en kabouters is en ek glo nou dat hulle bestaan dan is Knysna se bosse vir seker hulle woon- en speelplek. Wat ‘n wonder was dit nie om vir drie dae lank onder daardie blaredak te kon instap en na hulle te gaan soek nie. Miskien was hulle maar skrikkerig vir my, of miskien het die klammigheid hulle laat skuiling soek. Wie weet of ek nie dalk te ongeduldig was, en nie lank genoeg gaan stilsit het om vir hulle te wag nie. Hulle spore was wel daar tussen die blare, swamme en paddastoele, en soms het ek my verbeel dat die stilte verbreek is deur die sagte stemme van klein-klein wesentjies. Tog het hulle nooit kom gesig wys nie. Nou, terug by die huis, bly net die herinnering aan die blaarbedekte bospaadjies, die hemelhoë bome en digte onderbos, die hope stilte wat net af en toe deur voëlgefluit versteur is, en daardie drome van ‘n wonderwêreld my by. Eendag gaan ek weer terug, en wie weet, miskien ontmoet ek dan daardie wonderwesentjies daar tussen die blare waar hulle om een van die paddastoele dans. Dat dit, vir enigeen wat enigsins kan, ‘n moet is om self daar uit te kom, is seker. Vergeet gerus van die hope ander besoekers wat ook daar rond is, en gaan soek liewer ‘n stil loopplekkie weg van hulle.

Die Burger - 1996 article featuring Forest Edge
Die Burger - 1996 article featuring Forest Edge
Pink Book - Let's plan your wedding